Ons begin weer Saterdae ‘surface’ om met rooi oe en dik neuse die Eikestad aan te durf.  Waar nuwe groei en stuifmeel jou begroet terwyl die teerstrate offerhandes van warm stof in jou rigting slinger wanneer ‘n kar daaroor jaag.

Ja, dis lente.  In die Boland.

Die afgelope 2 Saterdae is my voete kortpad na Protea Boekwinkel om eerstens na oom PG du Plessis te gaan luister waar hy oor sy roman, Fees van die Ongenooides, gesels het.  Tot ek die nuusbrief van Protea onder oe gehad het, het ek nie geweet die tranetrekker is op pad rakke toe nie.

Ek ken oom PG van sien op die TV.  Saam met die land se grootste storievertellers.  Totdat die tafeltjie begin leeg loop het rondom hom soos die groot manne ‘kom haal is’.  Deesdae kyk ek nie meer die storie programme nie, want dis vol vet, grillerige mannetjies wat dink hulle is snaaks.  Ek weet ook nie eens meer of daar nog sulke programme uitgesaai word nie? 

Oom Jan Spies en Tolla was mos sommer net snaaks.  Want hulle kon ‘n storie, ‘n pragtige skoon storie, vertel dat oom PG sit en trane afvee, en die Olof Berg in die blikbekers met rukke en stote oor die randjies stort.  En hiermee verklaar ek hulle nie as heiliges nie, nee, ek weet daar is gruwel stories ook oor daardie lippe, maar vir die TV en die groter volk, het hulle die wag voor die mond gesit.

Oom PG het begin vertel van MNET wat ‘n ingilse reeks wou he, en hoe hy die reeks in die taal van die verraaier moes aandurf.  En toe het die boek gekom.  En hy het vertel van die verkragtingskinders, en die tannie wat hy geken het, wat, toe hy ‘n jong seun was, hom die storie vertel het van haar verkragtings, herhaaldelik, deur ‘n paar bastards, en die baba wat sy verwag het.  En hoe sy van die kind ontslae geraak het by geboorte, en toe begin het om ander vroue ook op so ‘n manier te help.  Ek het sit en luister met hoendervleis, want ‘n MEESTER STORIEVERTELLER was aan die woord.  En trane het in my oe gele.

En sy storie van sy oupa en ouma…ek dink dit is die mooitste verhaal wat ek hom nog ooit hoor vertel het.  My trane het nie meer gele nie, hulle het geloop.  Want die man kan waarneem, en oorvertel.  En die luisteraar hoef nie prentjies te maak van sy woorde nie, hy bied dit in kleur met surround sound vir jou aan.

Ek is huis toe met die boek.  Voor-in het hy geskryf:  ‘maak jou reg vir ‘n skok’.  Yea right.  Ek lees al jare ABO verhale, ek het sit en snot en trane by Feast op TV, wat kan my nog skok?

Tot in die helfde van die boek het ek gese dit is die TV reeks se storie (dit is) en wat ek besef is dat die akteurs hand picked was vir hulle rolle.  Elke nuanse is oorgedra deur ongelooflike toneelspel.  Gewoonlik is die boek mos ver beter as die skerm.  Maar hier is ‘n bewys dat ons akteurs maar kan.

Toe begin die storie onder die TV skerm uittrek, en gisteraand laat het ek vol trane my lig afgesit.  Want hierdie boek vertel op soveel maniere, van soveel uiteenlopende mense se pyn, dat dit vir die leser byna ondraaglik raak.  En onmoonlik om onaangeraak deur hierdie verhaal, die boek neer te sit.

Almal van julle wat in die buiteland sit, of wat Feast of the Uninvited gemis het, jou kans om dit in roman vorm te verslind, het gekom.  Die grootse boek is op die rak.  Laat jou mense dit vir jou aanstuur.

 

En toe tref Antoinette Pienaar en Oom Johannes Willemse die Kaap.  Teen 10km per uur in haar rooi Colt, Dapper.  En Protea is stampvol, die boek vlieg nie van die rakke af nie, dit LAND nie eens op die rakke uit die boks in die uitgewer se hande nie!

En ons word getriet deur vertellings en stories en kruie-waarhede en die tyd vlieg te vinnig verby vir hierdie oopmond dorpsjapies wat sit en indrink wat hierdie twee te vertelle het.

Die vrou wat van kruie leef, en wat haar lyf met uitgebraaide skaapvet insmeer teen die son se strale, en die dag se skurfheid, het die gehoor aan haar voete.  Net so entertaining as wat sy Vrydae middae 16:30 op RSG met Amore Bekker klets en giggel, nog meer entertaining is dit om die full monty te kry!

Die boek, ek kon darem betyds my kopie kry, is ‘n fantastiese stuk vertellings, stories, staaltjies en kruie rate.  Van ‘slapstingelstres’ rate, tot raad vir mense wie se ‘vleis geskrik het’!  Ek het die boek vinnig deurgelees, lekker gelag en het ‘n interessante verwysingsdokument, met foto’s van haar kruie, vir toekomstige probleme.

Hierdie twee wys eintlik vir ons wat so alles het, dat ons regtig niks het nie.  Want hulle het alles wat nodig is.  En die veld.  En die uitsig!  En hulle het ‘n es waarin hulle vuur maak.  Ek is so jaloers, ek kap sommer ‘n es op die teer.

Gaan koop vir Kruidjie Roer My, gee dit vir jou mense present, want dit is ‘n Afrikaanse juweel!