Ek wil vra dat jy, die leser, hierdie gedeelte sal deurlees, en jouself indink hoeveel van ons eie mense ook seer het, sommige kan dit nie verwoord, of uitdruk nie.
Ek hoop dat die klipgooiers ‘n oomblik sal stilstaan, en kyk of die oordeel regverdig is.
Skoor
Die Kind
30 07 2007
Ons land se geskiedenis is besaai met tragedies. Midde-in baie van hierdie tragedies staan die soldaat, misbruik en veroordeel van baie kante af. En ten spyte van die oordeel, beskuldiging, beswaddering en haat, het die soldaat ook ‘n storie. ‘n Storie wat nie baie vertel word nie; ‘n storie wat min mense omgee om te hoor. Ingrid Jonker se gedig “Die kind” ruk aan enige soldaat se wese. Hierdie gedig is ‘n aanklag, skuldigbevinding en veroordeling – sonder dat die ware motiewe van die soldaat ooit ondersoek word. Sonder dat die gevoellose, wrede soldaat se kant ooit gehoor word…
Die kind
Die kind is nie dood nie
die kind lig sy vuiste teen sy moeder
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van vryheid en heide
in die lokasies van die omsingelde hart
Die kind lig sy vuiste teen sy vader
in die optog van die generasies
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van geregtigheid en bloed
in die strate van sy gewapende trots
Die kind is nie dood nie
nòg by Langa nòg by Nyanga
nòg by Orlando nòg by Sharpeville
nòg by die polisiestasie in Philippi
waar hy lê met ‘n koeël deur sy kop
Die kind is die skaduwee van die soldate
op wag met gewere sarasene en knuppels
die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings
die kind loer deur die vensters van huise en in die harte van moeders
die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals
die kind wat ‘n man geword het trek deur die ganse Afrika
die kind wat ‘n reus geword het reis deur die hele wêreld
Sonder ‘n pas
Uit: Rook en oker (1963)
Dis tyd dat die soldaat se storie vertel word…
Soldate-brief aan Ingrid
10 08 2007
Ingrid
Ek weet jy is weg, en dat jy nooit hierdie brief sal lees nie, maar dit wat jy agter gelaat het leef voort, so daarom rig ek hierdie brief aan jou in die besonder, en jou nalatenskap in die algemeen. Al hoor en sien jy dit nie, mag hulle dit dalk onder oë kry.
Ek wil met jou gesels oor die kind wat geskiet is, Ingrid. Jy weet, die een by Langa, en by Sharpeville, en in Kathlehong, en oral waar daar kinders geval het deur die toedoen van ‘n soldaat.Ek sal met die deur in die huis val…
Ek is een van daardie soldate. Ek is nie trots om vir jou te vertel dat ek ook ‘n kind geskiet het nie, maar ek is eerlik genoeg om dit te erken. En hierdie is my verhaal – die kant wat jy nog nooit gehoor het nie, of dalk net nie wou hoor nie. Dit is tyd dat jy en die wêreld weet. Ek gaan myself nie probeer verontskuldig nie. God-weet, as ek dit na dertien jaar nog nie kon regkry nie, sal dit beslis nie vandag en hier gebeur nie. Maar die sweer moet ‘n slag oopgemaak word…
Eerstens, Ingrid, wil ek jou vertel van daardie kind. My indrukke. Dit wat ek gesien het. Want sien ingrid, dit wat jy op BBC en CNN en die SABC/SAUK gesien het, verskil van dit wat ek gesien het. Al wat jy gesien het, is die lyk van nog ‘n kind. Een vermoor deur soldate. Koelbloedig afgemaai. En sy bedroefde ouers, wat die veiligheidsmagte tot die hel verdoem en ween oor die verlies van hul eie bloed. En dan oordeel jy, Ingrid.
Jy maak my uit as ‘n koelbloedige monster. Een wat genot put uit die vermorsing van kosbare lewens. Jy sweep jou hele samelewing op teen my aksies. Jy hang my aan ‘n kruis, waar elkeen ‘n kans kry om my met rotse toe te takel. Maar jy doen dit uit onkunde.
Jy sien, Ingrid, jy was nie daar toe ek die sneller gedruk het nie. Jy het nie die prentjie in my visier gesien nie. Jy het nie die gedagtes en emosies wat deur my gegaan het, ervaar nie. Jy het nie die verantwoordelikheid van die besluit gedeel nie. Jy het nie die beperkte keuses gehad wat ek gehad het nie. Ek sal jou later meer van my besluitnemingsproses vertel – die proses wat ek deurloop het voordat ek daardie sneller gedruk het. Terug na die kind.
Die kind wat jy op jou TV-skerm sien, is ongewapen. Sestien jaar oud, en veronderstel om op die skoolbanke te wees, of agter ‘n sokkerbal aan te hardloop. Hierdie kind lê vandag, nou, dood in ‘n straat. As jy mooi kyk, sal jy sien dat daar oral tekens is van ‘n optog of demonstrasie wat daar plaasgevind het. Dit bring my by my eerste vraag: wat het hierdie kind daar gesoek?
Maar hy was daar, en sy lewelose liggaam is stille getuie daarvan. Kom ek vertel jou hoe hy daar gekom het. Regoor Afrika, en in baie ander dele van die wêreld, is kindersoldate ‘n algemene verskynsel. Die “Lord of War” in die fliek met dieselfde naam, verwys na hierdie kinders as sy “Kalashnikov Kids”. Kinders wat AK47-aanvalsgewere dra. Nie hier by ons nie. Hier het kinders selde gewere gedra (maar van hulle het, glo my…). Die kinders is hier ingespan as ‘n “human shield”.
Jip. Reg agter hulle was die manne met die AK’s. En hulle was altyd gereed om ‘n “pot-shot” te vat op ‘n wit soldaat. Om soldate dood te skiet, was nie ‘n sonde nie, en is nie veroordeel deur die internasionale gemeenskap nie. Soldate was die onderdrukkers, en die hele doel van die opstand was om ontslae te raak van die onderdrukkers. En dit het ons “fair game” gemaak. Solank dit die Struggle sou dien, was my lewe die prys van ‘n goedgemikte AK-rondte werd. En minder.
Ek weet nie of jy al aan die verkeerde kant van ‘n AK47 gestaan het nie, Ingrid. Ek kan wel vir jou vertel dat dit wat daar moet uitkom, byna gewaarborg is om uit te kom. ‘n AK werk altyd. En dit wat daar uitkom, vra nie vrae nie. Die rondte word vervaardig met ‘n effense imperfeksie wat balans aanbetref. Wat beteken dat die oomblik wat hy jou tref, hy in ‘n onbeheerde spin ingaan. Het jy al gesien hoeveel chaos veroorsaak dit in ‘n liggaam van vlees en bloed? Dis genoeg om jou slapelose nagte te gee. En dit was maar net een van die dinge waaraan ek moes dink voordat ek die sneller gedruk het.
Kom ek vertel jou ‘n bietjie meer van soldaat-wees, Ingrid. Ek het nie net een oggend wakker geword en besluit “I love the smell of napalm in the morning” nie. Ek het, soos duisende ander, my oproepinstruksies gekry. Ek het, soos duisende ander, my wetlike en grondwetlike plig nagekom, en aangemeld vir diensplig. Sien, soldate val nie uit blou lug uit nie. Daar moet ‘n weermag wees vir soldate om te kan wees. En ‘n weermag word in die lewe geroep en gerig deur wette. Dieselfde wette wat geskryf is deur politici. Politici wat op hulle beurt verkies is deur gewone mense. Mense soos jy. Mense soos ek. Die gewone mens op straat het ‘n behoefte aan veiligheid, nie net op persoonlike vlak nie, maar ook wat betref sy grondgebied en soewereiniteit. Vandaar soldate.
Vandaar ouens soos ek. Wat op agtienjarige ouderdom in ‘n uniform ingedruk word, opgelei word, en dan aangewend word om die gewone burger se regte te bewaak en beskerm. Ek het daardie plig met trots vervul. Daar was nie een dag in my hele militêre loopbaan waar ek my geskaam het vir die uniform wat ek dra nie. Soldaat-wees het my blootgestel aan ongekende verantwoordelikheid en aanspreeklikheid, en my geleer hoe om dit te aanvaar en met onderskeiding te bemeester. Nie juis kwaliteite wat jy by vandag se jeug sal raakloop nie, maar dit daar gelaat…
En toe stuur die politieke leiers ons townships toe, Ingrid. Daar was die wêreld aan die brand. Ek praat hier van 1993. Die Oos-Rand. Ek het gedink die swartmense is kwaad vir die witmense. Wat ‘n ontnugtering. Daar het ‘n volskaalse burgeroorlog gewoed tussen swart en swart. Xhosa en Zoeloe. Tot ‘n honderd moorde per dag, Ingrid. En bykans altyd was die kinders voor. Opgestel as kanonvoer in die voorste linies. Die pa’s en die oupas was seker te lafhartig. Maar daar staan ons toe. Aangesig tot aangesig.
Aan die een kant: ‘n 18-jarige met ‘n uniform, ‘n R4, en groot oë. Agter my, meer 18 en 19-jariges. Aan die ander kant: ‘n 16-jarige, skamelrig gekleë, met groot oë. En agter hom, ‘n uitgevrete man met ‘n AK47, wat brand om ‘n wit soldaat te klits.
Ek het geen belang by die geveg gehad nie. Dit was tussen Xhosa en Zoeloe. ANC versus IVP. Ek was bloot die soldaat wat ingeroep is om tussen die strydende partye in te tree. Ek moes net my werk doen – skarebeheer. Maar party skares wil nie beheer wees nie…
En dan, Ingrid, vanuit die niet, klap die eerste skote. Niemand weet ooit regtig waar dit vandaan kom nie. Iemand het trigger happy geraak. Iemand se vinger het gejeuk.
Het jy al gesien hoe dit lyk wanneer jy ‘n brandende vuurhoutjie in ‘n kruitvat gooi, Ingrid? Die chaos is onbeskryfbaar. Liggame maal soos groot troppe vasgekeerde en verbouereerde beeste. Skote klap. Mense gil. Die geraas maak jou mal.
En dan skop jou opleiding in. Alles in jou en rondom jou raak doodstil. Jou reaksies raak vlymskerp. Gebeure speel raampie vir stadige raampie voor jou af. Jy bekom hierdie ongelooflike vermoë om alles in slow motion te sien, te ontleed en te verstaan. En jy neem besluite. Skielik sien jy nie meer wit of swart of kleur nie. Jy onderskei bloot tussen dit wat lewensgevaarlik is, en dit wat nie is nie. Jou oorlewingsdrang neem oor, en al wat saak maak, is “eat, or be eaten”.
‘n AK47 lyk en is soos ‘n swart mamba as jy aan sy doodgaan-kant is. En jy reageer. Nie teen die gif nie, maar teen die slang. Die een wat die gif op jou wil vrylaat. En jy pik eerste. Want daar is geen tweede plekke hier nie. En vandat jy deur al hierdie dinge begin gaan het, totdat jy die sneller gedruk het en weet iemand anders was vandag nie so gelukkig soos jy nie, het blote breukdele van sekondes verstryk.
En voor jy werklik tot verhaal kom, is alles verby. Al wat jy sien, is mense wat die vlaktes vol vlug. Hier en daar ‘n gekerm. Jy kyk rondom jou om te sien of al jou soldate orraait is – jou eerste prioriteit is jou manskappe. En dan roep jy die medics nader. Jy inspekteer die neergevelde liggame. Jy draai die lyk om, en skrik jouself spookwit vir die kind wat daar lê.
En dan begin die twyfel. Jy kan sweer dat daardie selfde kind twee minute terug ‘n wapen op jou gerig het. Nou wonder jy hoe jy nie kon sien dat dit bloot ‘n kind was nie. Het jy reg gekyk? Het jy die regte ding gedoen? Was dit nie dalk ‘n fout in die hitte van die oomblik nie? Wat de hel het vandag hier gebeur? Is ek nou ‘n kindermoordenaar? ‘n Baby killer?
Dit is waar die wroeging begin. En vannag wanneer jy gaan slaap, kry jy bevestiging. In jou droom speel die situasie hom weer af. En jy sien helder. Beter as die eerste keer sien jy hoe hy vanuit die niet ‘n AK optower, of as ‘n skild gebruik word deur die persoon agter hom, wat die AK oor die kind se skouer gooi en gereed maak om op jou los te brand. En jy lig weereens jou wapen, beoordeel weereens die bedreiging, en verlaat jouself weereens op jou opleiding. En as die skoot klap, sit jy natgesweet in jou bed regop, en kyk verward rond. Skielik bang vir die donker.
En terug in jou voorkamer, Ingrid, berig die BBC/SABC/SAUK/CCN van nog ‘n kind wat deur soldate vermoor is. Hoe ‘n vreedsame protesoptog in tragedie geëindig het toe soldate op protesgangers losgebrand het. En die haat in jou hart groei. En jy neem jouself voor om weer op my te spoeg as ek in die straat by jou verbyloop. Jy neem jouself voor om daardie onskuldige kind se lewe te wreek…
Het jy ooit gewonder wat van my geword het, Ingrid? Nou, soveel jare na daardie bloedige dae in die strate van ons land? Het dit dalk al by jou posgevat dat ek op ‘n stadium my wapen sou neersit, my uniform sou opvou, en probeer om net ‘n doodgewone burger soos jy te wees? Kom ek vertel jou waar in die wêreld swerf ek, Ingrid.
Ek is tussen julle – op straat, in kroeë en restaurante, op kantoor. Ek is die ou vir wie jy elke oggend by die verkeerslig glimlag. Ek is die loner wat na werk sy drankie in ‘n stil hoekie van die kroeg drink, en dan huistoe verkas. Huistoe. Daar waar niks is nie. Sien, Ingrid, ek kon nog nie die sprong in ‘n huwelik in maak nie. Want. Want… Want ek is bang vir kinders.
Ek is bang om die verskrikking op my kinders se gesigte te sien wanneer ek in die middel van die nag uit ‘n nagmerrie wakker skrik en my gil deur die stil huis weergalm. Tog is ek een van die gelukkiges. Ander is nie so gelukkig nie.
Van hulle het daar bloot emosionele ashope oorgebly, opgesluit in inrigtings. Ander was meer meer gelukkig, en het normale gesinne, normale lewens, ‘n skyn van normaliteit.
Maar Ingrid, ons het almal een ding in gemeen: moenie eens wonder waar ons gedagtes is wanneer ons na die lekkende vlamme van ‘n braaivleisvuur tuur nie. Moenie wonder waar jy ons moet gaan soek wanneer ons oë wasig raak en ons kakebene geklem raak nie. Moenie wonder oor die traan wat sag teen ons wange afbiggel wanneer ons kinders hoor lag nie.
Die kind wat daardie dag gesneuwel het, lewe. Jy het tereg so opgemerk. Ek kan dit bevestig. Hy sal altyd lewe in my nagmerrie-drome, al skiet ek hom elke nag. More-aand sal hy weer daar wees. En ek? Ek lewe ook. Op my manier. Verwyt en gehaat. Vol selfverwyt en baie keer selfhaat. Maar ek lewe. Somehow…
En dit alles, Ingrid, is die resultaat van die blote gehoorsaming van ‘n wettige oproep tot militêre diens. ‘n Militêre diens wat ek gaan verrig het ter wille van jou behoefte aan veiligheid. En die kind? Ja, ek is jammer. Ek is nie nie spyt nie. Dit was óf ek óf hy. Ek was beter opgelei. En dalk, net dalk, was my motiewe suiwerder, en God het gekyk. Maar op ‘n manier dink ek hy is vandag beter af as ek…
Groete
Die Gestorwe Soldaat
Naskrif: Ek weet jy het destyds nog nie TV gehad nie, Ingrid, maar bitter min mense lees vandag koerante. En in 1993 en 1994 was daar al TV hier in Suid-Afrika gewees…
Hierdie skrywe is op my blog geplaas met spesiale vergunning van die skrywer, Die Gestorwe Soldaat.
Besoek sy blog deur die link op my blogroll te neem.
Dankie Soldaat. Ek salueer jou. Mag jou nagte droomvry word, jou dae gevul met sonskyn. Joue, en die ander s’n.