Ek was standerd 7.  Ons hier in die Kaap het nie geken van grade nie, en net visse het grate.  Dit was die vreemde kinders, of ‘Soppiekoppies’ uit die Transvaal wat in grade was.

My ingilse juffrou was een waarop iedere kind tot ‘n mate verlief kon raak.  Dogter en seun.  Sy was jonk en vol lewe met oe wat op skrefies getrek het as sy lag, en sy het altyd, en haar stem het soos klokkies geklink.

Maar toe besluit haar man hy moet buiteland toe en sy kan nie vir 4 jaar agterbly nie.

Ai, ons 15-jarige harte was stukkend. 

Ek sal nooit die gevoel vergeet toe ons die eerste dag van die nuwe kwartaal vol verwagting ingilse klas toe stap nie.  Watter wonderlike onderwyser sou die skool vir ons uit die mou trek?  Hoe wonderlik moet hierdie nuwe mens wees om op die oue te verbeter?

Sy het langs haar tafel gestaan met ‘n oranje, gebreide pakkie aan.  Romp en bo-stuk.  Oranje.  En sy het so ietwat na Madonna getrek hier oor die wangbene.  En ek kan nie onthou of dit sy was wat die bril opgehad het, of my St. 4 juffrou met die lae hals bloese en die klein brilletjie waaroor sy geloer het nie.  Ek was vir altwee bang.

Ons, soos ‘n meisie klas betaam, het giggelend, skertsend en nuuskierig die klas ingestap.  Gaan sit.  Gekyk.  Gepraat.

En toe maak Cruella haar mond oop, en die slange wriemel op haar kop.  Haar oe het vuur geskiet en uit haar mond het die suur oor ons gespat!

Sy het die vrou geken wat voor haar langs dieselfde lessenaar, soveel wonderlike stories kon opdis.  Sy was seker bewus in watter chaos sy ‘n les kon laat ontaard, dit was immers haar suster se vriendin.

En sy het ons toegesnou:  ‘ek soek nie maatjies nie’.  Haar openingswoorde.  Aan ‘n geskokte, suurdeurdrenkte spul meisies met puisies.

Ek onthou NIKS van my standerd 7 jaar se ingilse klasse nie.  Ek onthou net dat ons skeitbang was vir haar, en dat niemand ooit huiswerk vergeet het, of kanse gevat het nie.

Ek sien haar nog soms in die dorp.  En dan skrik ek my diff so skeef, dit vat 3 minute om weer my hartklop te stabiliseer.

Ek sien die eerste onderwyseres ook – sy is ‘n klient.  Maar ek het nognooit die storie vir haar vertel nie.