Archives for category: Lekker Bek

Oooops!

Skoor het opgepak en getrek.

Dis nou sommer net HIERwaar jy kan kliek en op skoor.wordpress.com uitgespoeg word.

Net Skoor.  Soos altyd.

Sien jou daar!

Ek was standerd 7.  Ons hier in die Kaap het nie geken van grade nie, en net visse het grate.  Dit was die vreemde kinders, of ‘Soppiekoppies’ uit die Transvaal wat in grade was.

My ingilse juffrou was een waarop iedere kind tot ‘n mate verlief kon raak.  Dogter en seun.  Sy was jonk en vol lewe met oe wat op skrefies getrek het as sy lag, en sy het altyd, en haar stem het soos klokkies geklink.

Maar toe besluit haar man hy moet buiteland toe en sy kan nie vir 4 jaar agterbly nie.

Ai, ons 15-jarige harte was stukkend. 

Ek sal nooit die gevoel vergeet toe ons die eerste dag van die nuwe kwartaal vol verwagting ingilse klas toe stap nie.  Watter wonderlike onderwyser sou die skool vir ons uit die mou trek?  Hoe wonderlik moet hierdie nuwe mens wees om op die oue te verbeter?

Sy het langs haar tafel gestaan met ‘n oranje, gebreide pakkie aan.  Romp en bo-stuk.  Oranje.  En sy het so ietwat na Madonna getrek hier oor die wangbene.  En ek kan nie onthou of dit sy was wat die bril opgehad het, of my St. 4 juffrou met die lae hals bloese en die klein brilletjie waaroor sy geloer het nie.  Ek was vir altwee bang.

Ons, soos ‘n meisie klas betaam, het giggelend, skertsend en nuuskierig die klas ingestap.  Gaan sit.  Gekyk.  Gepraat.

En toe maak Cruella haar mond oop, en die slange wriemel op haar kop.  Haar oe het vuur geskiet en uit haar mond het die suur oor ons gespat!

Sy het die vrou geken wat voor haar langs dieselfde lessenaar, soveel wonderlike stories kon opdis.  Sy was seker bewus in watter chaos sy ‘n les kon laat ontaard, dit was immers haar suster se vriendin.

En sy het ons toegesnou:  ‘ek soek nie maatjies nie’.  Haar openingswoorde.  Aan ‘n geskokte, suurdeurdrenkte spul meisies met puisies.

Ek onthou NIKS van my standerd 7 jaar se ingilse klasse nie.  Ek onthou net dat ons skeitbang was vir haar, en dat niemand ooit huiswerk vergeet het, of kanse gevat het nie.

Ek sien haar nog soms in die dorp.  En dan skrik ek my diff so skeef, dit vat 3 minute om weer my hartklop te stabiliseer.

Ek sien die eerste onderwyseres ook – sy is ‘n klient.  Maar ek het nognooit die storie vir haar vertel nie.

Ek droom laasnag van Deon Meyer.  Ek weet nie wat nie, maar toe ek opstaan om te gaan water drink, weet ek dis tyd om te gaan moan op sy webwerf.  Het hy dan nie ‘ophou werk’ om voltyds te begin skryf nie?  En as Steve ‘n boek in 5 weke kan skryf, hoekom vat Die Meester dan so lank…

Hy het my egter voorgespring – ek steel en cut en paste van sy webwerf www.deonmeyer.com en ek dare almal wat nognie sy boeke gelees het nie, om te gaan vir leesklasse, en dan die boeke van die eeste tot die laaste te pak.  (Leesklasse omdat ek nie kan glo enigiemand wat kan lees, het nognie ‘n Meyer boek opgetel nie!)

13 Uur

In Oktober 2008 op die rak:

Speurder-inspekteur Bennie Griessel is nugter. Een-honderd-ses-en-vyftig dae al. Maar die oproep wat hom wakker maak is die begin van 13 uur van ‘n dag wat hy dalk nie gaan oorleef nie – en hom meer as een keer na die bottel wil laat gryp.

Die storie:

Om 05:36 hardloop die vrou teen die hang van Leeukop. Sy is jonk, beeldskoon, Amerikaans – en beangs. Sy word soos ʼn dier gejag deur mans wat net ure gelede haar beste vriendin se keel afgesny het.

Om 05:43 bel hulle vir speurder-inspekteur Bennie Griessel wakker. Hy moet kom, ʼn jong meisie se lyk lê langs St. Martini, die Lutherse kerk bo in Langstraat.

Die vorige aand nog het hy gedink dit gaan vir hom ʼn spesiale dag wees: Die begin van ʼn nuwe era in sy loopbaan, as mentor van ʼn groep jong swart en bruin speurders. En hy verwag nuus oor sy bevordering. ‘Kaptein Bennie Griessel’. Dit klink vir hom reg.

Behoort ʼn redelik normale dag te wees.

Tot sy jong span polisiemense begin stry, baklei, struikel. Met die kerkmoord. Met die middeljarige, alkoholis-vrou wat haar man, ʼn groot gees in die Afrikaanse musiekbedryf, twee keer met sy eie pistool deur die hart geblaas het. Met die soektog na die Amerikaanse toeris.

Terwyl die diplomatieke telefoonlyne vuurwarm gebel word en selfs die Minister begin druk toepas, sodat die hele mentor-ding soos mis voor die son verdwyn en Griessel self moet inklim om die gemors te probeer red.

Om nie eens te praat van sy persoonlike probleme nie. Sy bankrekening lyk sleg, hy stoei nog met die dranklus, sy vervreemde vrou Anna bel uit die bloute en sê vanaand is die aand wat hulle oor die toekoms moet gesels. Weet sy van die 26-jarige rekenaartegnikus met die aansienlike borste wat hy gisteraand, in ʼn oomblik van swakheid, op sy sitkamerbank deurgedraf het?

Boonop kondig sy vriend en kollega Mat Joubert aan dat hy die SAPS gaan verlaat, en dan bel sy seun Fritz met die nuus dat hy klaar is met skool, hy gaan kitaarspeler word in ʼn rock-groep met die naam van ‘Wet & Orde’.

En indelik, net wanneer hy op die punt staan om die Amerikaanse meisie te red, skiet hulle vir Bennie Griessel. Reg in die hart.

Redelik normale dag, jou tipiese 13 Uur van Suid-Afrikaanse wetstoepassing.

 

Só begin Hoofstuk 1:

Om 05:36 hardloop sy teen die steilte van Leeukop uit, die voeteval van haar sportskoene dringend op die gruis van die breë voetpad.

Op dié oomblik, wanneer die vroeë strale van die son haar soos ʼn soeklig teen die berg vind, is sy die toonbeeld van sorgelose grasie. Van agter gesien, wip haar donker vlegsel teen die klein rugsak, haar skouers is ‘n diep sonbruin teen die poeierblou van haar T-hemp. Daar is energie in die ritmiese tred van haar lang bene in die denim-kortbroek. Sy skep die indruk van atletiese jeugdigheid – lewenslustig, gesond, gefokus.

Tot sy skielik gaan staan en oor haar linkerskouer terugkyk. Dan verbrokkel die illusie, want daar is angs in haar gelaatstrekke. En uitputting.

Sy sien nie die indrukwekkende skoonheid van die stad in die sagte lig van die opkomende son nie. Haar oë soek wild en bang na beweging in die hoë fynbos agter haar. Sy weet hulle is daar, maar nie hoe naby nie. Haar asem jaag – van inspanning, skok en vrees. Dit is adrenalien, die verskriklike drang om te leef, wat haar dwing om weer te begin hardloop, om aan te hou, ondanks haar lam ledemate, die brand in haar bors, die tamheid van ʼn nag sonder slaap en die disoriëntasie van ʼn onbekende stad, ʼn vreemde land, ʼn ongenaakbare kontinent.

Voor haar vurk die paadjie. Haar instink dwing haar regs, hoër op, nader aan die Leeukop-rotskoepel. Sy dink nie, sy het nie ʼn strategie nie, sy hardloop blindelings, haar slanke arms is die stange van die masjien wat haar aandryf.

 

Ek kan nie meer wag nie – myne is by Protea bestel en daai volgende 2 dae is my dagboek leeg gelaat.  Want ek weet hoe ek raak as ek hierdie man se boeke lees… please leave a message after the tone…

 

Ek maak deesdae ‘n punt daarvan om my daily smile te kry op GOOGLE se homepage. 

Die olimpiese varkies wat daar perform, is vir my net te cute.  Dit is wonderlik hoe kreatief mense in alle aspekte van die samelewing kan wees.  En hoe entertaining die veranderende opskrif vir die webgebruiker kan wees.

Ek het ‘n koor juffrou op laerskool gehad wat nogal enige sagtehart kind kon laat afsien van sing, om nie van die one to one met klavierlesse te praat nie.  My broer het by haar klavier geneem, maar sy was blykbaar toe nie so bad nie.

Ek het klavier by die ander juffrou geneem.  En soms as ek sit en wag in die kantoortjie voor die musiek klasse, het ek gehoor hoe sy op die kinders gil.

Sy het eendag die klavier, tydens ‘n koor oefening, so hard gemoer, die hele boonste hout gedeelte het gebreek.  Toe gryp sy haar handsak, skree vir haar kind (hy het ook koor gesing) dat hy moet kom, en toe waai sy.  Toe sit die hele koor daar.  Doodgeskrik.  Vrek verskrik.  Ek dink ons het die klas na 15 minute verlaat toe ons besef sy is huis toe.  Of iemand het by die ruit uitgehang en gesien die silwer Golf ry teen die bult af.  Ek kan nie onthou nie.  Ek het gewonder of die klavier se klank nou nie belemmer sou wees met die harde hou, en met die verskuiwing in struktuur nie.

Hulle het jare gelede, nog voor almal holderstebolder land-uit is, Nieu Zealand toe getrek.  Ek wonder soms of sy aard daar.  Sy skree seker ook maar die koppe af daai kant van die see, maar party mense kalmeer mos darem as die grys hare meer word.  Ek wonder wel watse soort kinders haar 3 uitgedraai het!  Met so ‘n ma kon dit net fataal gewees het.

My sub. A juffrou was ‘n oujongnooi.  Sy het later vir kinders van oud-skoliere skoolgegee.  Ek wonder of sy nog leef.  Dit moet nogal ‘n skok op ‘n ou se gestel wees as jy die oggend die register van jou nuwe klas deurgaan, en bekende trekke van jaaaare terug, herken!  En dit nog by dieselfde skool.

Ons het eendag kuns gehad in haar klas, en toe moes ons die landsvlag teken, en dan met swart kryt bo-oor krap, en dan krap jy met ‘n skerp voorwerp patrone uit (almal het daai gedoen, komaan, moenie so frons nie).  Ek wou my kunswerk perfek he.  En toe pouse aanbreek is ek nog nie halfpad nie.  Toe raas sy met my omdat ek so lank neem.  Die donirse vrou.

Is dit miskien waar my blokkasie teenoor kuns gekom het?  Of kan ek eenvoudig not de hel teken nie?  Ek het so 2 jaar gelede kunsklasse in die aand begin neem, heel okay gevorder, maar toe ry die lewe weer met sy gat na my toe, en die kreatiwiteit vries.

Maar daai malantillie van ‘n koorjuffrou kon my gees vir koorsing nie demp nie.  Ek het vir 12 jaar van skool gesing.  Op hoe”rskool (ek moes die ” insit 😀 ) in die naasbeste skoolkoor in die land gesing, en elke harde oefening geniet.

Ek like musiek.  Mooi musiek praat met my.  Woorde praat met my.  En as woorde ‘n ritme het en die klank kom le in die holte van my oor, dan kan ek stil tevrede glimlag.

Wyl van julle in aircon kantore gesit het vandag, het my reenmeter 150mm reen geslaan, en het die sneeu lekker gele op die berge – meeste ongelukkig afgereen, en die res, skelm verskuil agter ‘n digte wolk kleed.

Bo is die hoogste kranse van Simonsberg, en onder, die baie bekende Pieke in Jonkershoek.

Ek raak simpel as die sneeu geval het.  6 Jaar gelede was die sneeuval so swaar, jy kon letterlik in Jonkershoek opry, en langs die teerpad in die sneeu speel.  Ons het Vrijheid2 opgestart, en in Banhoek op ‘n plaas gaan speel. 

Ek het hordes kosbare foto’s geneem.  Met ‘n film kamera.  Wat toe opgeneuk is gedurende die ontwikkelingsproses deur die winkel.  Alles poer in hulle moere.  Ek was bitter ontsteld, en het dadelik ‘n digitale kamera gekoop.  Nou is enige foute my eie.

Nou moet die sneeu net weer so swaar val…

verjaarsdagkreef3.jpg

Ai tog, waaroor gaan ek blog as die kreefseisoen in April toemaak?  Want dit is waaruit ons naweke bestaan.  Soggens as ons oe oopgaan, pak ons die bakkie of Vrijheid3, en sit af Hangklip toe.  Daar speel ons die dae om, en kom soms met ‘n Seengroet uit die see, huistoe. 

Om poot-uit langs ‘n bak pasta aan die slaap te val, met gepynigde spiere en gelukkige harte.

Vrydag aand het ons darem kultureel verkeer, maar nie voor ons heerlike sushi gehad het nie.  Vis is nou maal een maal deel van ons eetpatroon, en die kabeljou wat ons gisteraand op die kole gaargemaak het, het my net weer herinner hoekom ons so lekker eet aan vars vis!

Terug by Laurika.  Toe sy op stage kom, was daar hoorbare asem-intrekkery.  Sy het ‘n vreeslike klomp gewig verloor.  Sy lyk flippen 28!  En sy sing nog net so mooi soos altyd.  Ek het grootgeword met haar musiek.  Later dit ontgroei, soos dit maar met die jeug gaan, en genadiglik weer daarvan bewus geword in die laat jare van die 90’s. 

Wat ‘n absolute voorreg om haar in lewe te sien en te ervaar onder die sterrehemel by die mooiste amfiteater in die land.  Wyl die maan haar volheid verloor het daai aand, het Laurika se stem net ryker en voller en mooier geklink.

Ek hoop dat haar gewigsverlies, net gewigsverlies is.  En nie uit siekte of seerkry nie.  En mag sy nog baie jare vir ons sing.  En meer gereeld in die Bosch kom kuier!

Jip, die see by Hangklip het vanoggend minder water as gister.  Ek is ‘n gesoute net-ingooier, nonsens prater, kreef uithaler uit vlak gate, maar gee my die oop see, en ‘n paniek beklouter my hier van tussen my ribbes, reg-op tot voor my voorkop!

Saterdag het ek die manne met die stokke en die nette dopgehou, gaan gesels met van hulle, en gister Skoorlief se stok geneem om ook so van die kant af te probeer uittrek soos al die ander met sukses regkry.

Ek het uitgetrek, maar die size is nie meer daar nie.  Lyk my ons moet bid vir ‘n goeie groeiseisoen deur die winter, sodat ons met die begin van volgende seisoen, kan gaan haal wat ons nou moes teruggooi.

Ek het later fed-up geword met die kant sukkelry, en my duikpak teen my beterwete, aangetrek.  Ek sou nie, maar ek het hom saamgedra, net ingeval.  Toe raak dit ingeval, en ek spook en spartel en wriemel en swets die REEF pakkie aan, maar my gewigte is om Skoorlief se lyf, saam met my flippers.

Wee julle wat maak die see met ‘n vrou in ‘n duikpak, sonder gewigte en met Rocky skoene aan die voete?  Blou lug, seewier, blou lug, bamboes, blou lug, rotse, blou lug, bamboes!  I nearly died.  Toe gaan ek in bietjie van ‘n panic, want ek is ‘n kind van die Karoo, en hierdie absolute fiekerol beheer oor wat met jou gebeur, werk nie met my psige nie.  Maar toe gaan die panic genadiglik weg, en ek kry beheer oor my asemhaling, en trek myself deur die bamboes voort.  Hoekom het niemand nog ‘n tru-spieel vir ‘n duiker gemaak nie.  Net sodat jy oe op jou boude kan he?  Enige idee hoe dit voel om ‘n magtelose mens te wees in ‘n soutsee, en jou flippen mind se vir jou:  ‘onthou jy nog vir Jaws?  Hy het mos van onder gekom!’  Dan kyk ek skielik af, en sluk ‘n bliksemse klomp water.  Panic.  Stik, rustig word, kalmte, off we go.

Dan skielik, wyl vreeslike vreemde lelike klipvisse met pragtige kleure, die asiedraadjie in jou hand, bestorm en stukke aas steel, sien jy sommer gelyk 3 krewe op die seebodem.  Maar jou gewigte is nie aan jou lyf nie, so enige poging om af te gaan, laat jou gat oor kop dobber, en weer seewater inneem.  Panic. 

Toe lek my bril skielik, ek dink ek het my konstitusie skeef gehoes, soveel so dat my bril toe ook nie meer wou saamspeel nie.

Ek en aasdraadjie het darem ‘n kreef of 3 opgetrek, maar die size, die size wil nie meer saamspeel nie!  So ons het met 5 ons naweek afgesluit.  Hulle is gekook, en in die vrieskas gepak.  Vir die winter wanneer ons paella of ‘n Tom Yum Soup aanmekaar wil slaan, of sommer net die kirts van ‘n kreefpoot voor die kaggel wil hoor.

Ek is uit verskeie oorde getag, en beantwoord die vraag as volg.  Ek dink die vraag was om 10 dinge te noem wat jou so bietjie vervieserig laat…

*As ek voor die TV neerval, en agv ESKOM se kragSteling, is die videomasjien, die DSTV en MNET dekodeerders uitgestel, en ek moet opstaan om alles se in te stel.

*Ek haat onbevoegdheid.  In besigheid, in die regering, in alles waar ‘n sekere standaard lewering verwag word, of gelewer WAS, en skielik is dit net EISH!

*Ek verafsku dieremishandeling.  As ek na my 5 huiskatte, en my een aangenome kantoor kat kyk, dan weet ek nie watter tipe mens jy moet wees om iets so perfeks, te mishandel nie.

*Ek raak moerig as ek by die Nasionale museum in Kaapstad ingaan, en die toiletringe le flenters getrap in die hoek, die hele plek ruik na week-oue pie-pie, en die seephouers is uit die mure geruk.  Is dit mense wat gister eers van toilette bewus geraak het, wat nog altyd op klippe sit en mors het?  Veral as jy agterkom die geriewe is baie onlangs opgradeer.  En as jy besef toeriste moet dit gebruik.

*Mense wat indruk in ‘n ry.  Ek gaan nog iemand te lyf gaan – hou asseblief die TV nuus met Riaan dop, Skoor gaan nog feature!

*Die soort mens wat deesdae die kantore van die SAP vul.  Ek het jare terug saam met die SAP gewerk, en daai ouens is almal weg uit die polisie.  Die wat hulle destyds opgesluit het, sit nou in die aanklagkantoor, en is veronderstel om die publiek behulpsaam te wees gedurende trauma of verlies.  En hulle is onbevoeg om dit te doen!

*Die e-Natis stelsel wat transaksiefooie van my vereis, BO-OP my lisensiegelde, omdat een of ander skelm gemors ons verkeer en lisensiestelsel wou upgrade, maar in plaas daarvan, ons eerder ge-degrade het.  Nou moet ons gerieflikheidshalwe daardie fooi betaal, omdat die regering by magte is om net te vat en te eis.  Ons het ook dieselfde stelsel nou met krag.  R37 word afgetrek as transaksiefooi, voordat jy enige krag kan aanskaf.  Weet jy die impak op die arm gemeenskap, wanneer hulle bietjie geld het vir krag koop, en die ekwivalent van 74eenhede word gesteel van hulle?

*Ek haat PMS, want die pille wat ek konstant daarvoor moet drink, kos geld, en ek kon dit beter gebruik het.  Ek haat ook dat my hele wese so drasties kan verander.

*Ek haat die moedeloosheid, vrees en magteloosheid wat ons as Suid-Afrikaners elke dag ervaar.  Ek haat dat kinders nie meer veilig buite kan baljaar, en dat ek nie as dit so vrek warm is, buite op die grasperk kan slaap nie.

*Ek haat hoe aggressief ons as ‘n nasie geword het.  Ek haat die spanning en ek haat die korrupsie.

Ek weet nie wie nognie getag is nie, maar as Nico, BiB, Kop, Nikita, Roer, Dirk en Sonkind nog stil rondsluip, vertel daar op julle blogs wat julle haat!  Die meeste ander se name het ek raakgelees onder die getagdes op ander blogs vandag.

Wat ‘n jolige naweek op die Bosch was dit nie.  Vandag is daar seker weer ‘n handvol studente wat opskop, want jool is mos verby, en reality bites.  Die opskrif is n.a.v ‘n storie wat me Davel vertel het, oor hoe haar onderhoude met sekere sub-standaard publikasies, verdraai word, en die opskrifte gewoonlik kan skok!  Sy was nie regtig betrokke by die dronknes nie – wel, nie waarvan ek weet nie!

Vrydag aand het ons weer aan die lippe van Anna Davel gaan hang vir ‘n wyle, met die sonbesies wat nog buite in die akkers geskree het, en die karre wat mekaar wou verpletter van frustrasie weens die gebrek aan ruimte en parkering. 

Maar sy het weer die hemelse koelte oor die warm teater gebring, en met Die Mooiste vertolking van ‘i am what i am’, wat ek nog ooit gehoor het, en ek het al Amanda Strydom s’n ook beleef, het sy my weer blygemaak dat die Here my gehoor steeds vir my op pas, want sonder lied sal my lewe stil wees.

Sa’rag, ja, dit was nou ‘n anderster dag in die arme dorpie van ons, laat ons maar net se, dit was karnaval, en as jy parkering gekry het, moes jy stap.  Maak nie saak waarheen nie, maar ry kon jy nie.  Nie dat dit gedurende ander tye van die week veel makliker is nie.  Deesdae sit ons mos met imbisiele vir dorpsvaders en beplanners, wat woonstel op woonstel goedkeur, gierige ontwikkelaars wat geboue oprig waarvan die pleisterwerk met die eerste winterreens na benede begin stort, en strate wat aanvanklik vir perdekoetse ontwerp is.  In elke woonstel woon drie mense, en elkeen het ‘n kar.  Elke student het ‘n kar.  Niemand wil meer stap nie, want stap gee jou mooi kuite, en lelike dik boomstomp bene is blykbaar in die mode..

So ek en Skoorkind het die dorp te voet aangedurf, Afrika op voetsoolvlak beleef, grappe met pikswart vendors gemaak wat reken ons sal settle vir ‘n Bulls hemp as ons eintlik vir ‘n STORMERS hemp soek, en ons koppe geskud vir dronk wit meisies wat op die sypaadjie voor KFC, ten aanskoue van hordes mense, hul name sit en gat maak het.  Sulke tye wens ek dat ek so ‘n kind se ma en pa ‘n video clip van die vieslike optredes van hulle ‘heilige’ kindertjies kan stuur.  As ek ‘n SAP lid was, was my moer lekker gekoer na hierdie naweek waar hoofsaaklik wit kinders, soos barbare en gesuipte gespuis aangegaan het.  Is dit al wat oorgebly het van die jeug?

Skoorlief het ‘n lesing aangebied, ja, op die warm, raserige Saterdag, en eers in die agtermiddag gebel dat ons vir Vrijheid 3 deur die massas druk, om taxi te wees.  Wyl ons in die midde-dorp is, hoor ons ‘n bekende geraas, en besef Karen Zoid is op stage, en ons lief ‘n free show.

Druk Vrijheid 3 se neus in die rigting van die geraas, double park, en klouter op die roofrack – lekker agteroor in die son, Zoid haar ou raserige self, en ons smile breed.  Sal hier nie ‘n verdomde geregsdienaar voor die Landy kom staan, en sy boekie uithaal, en begin skryf nie.  Ek was so buite my vel van verbasing/verontwaardiging, en toe ons drie opstaan om te loop, begin hy wittand lag, en sy hy maak net ‘n joke.  Ek het lanklaas ‘n spietkop gesien joke, daarom het ek seker eers 5 minute later gelag, toe hy al amper by Checkers getrek het, en omkyk omkyk loop en giggel het, oor hy ons amper laat lelik praat het op die Braak!  To the speedcop with the sense of humour:  may this be your approach throughout the whole year…  Ek twyfel!

Gister is ons weer see toe, kreefnet en al, maar die dag was al half, en die groot krewe is seker al uitgevang, want net die kleintjies het die net kom besoek.  Die seisoen sluit oor 2 weke, en dan hoop ek vreet die kleintjies genoeg, sodat ek hulle almal volgende seisoen kan gaan uithaal en geniet.  Ek weet waar hulle skuil…  Geen sonbrand, bietjie seer spiere, en die punt van my een wysvinger kreefkos, was dit afterall ‘n wonderlike naweek.