Dit reën weer in die Kaap. 

Dan raak ek nostalgies verby as die water ritmes speel op ‘n dak. Ek wil my boek onder my blad druk, en met water wat teen my neus afdrup, op maat van ‘Staying alive’ deur die dorp stap, en by ‘n snoesigste koffiewinkel inglip, en verdrink in die woorde wat weggesteek lê tussen bladsye wat ruik soos ‘onthou jy nog’.  En beker op beker warm drinkgoed wegsluk, en kort-kort by die venster uitkyk na die wêreld wat daarbuite verbysnel, en mense wat mismoedig voortstrompel teen die vlae reën. 

En dan dink aan Stephan Bouwer se gedig “Windliedjie” as die wind ruk aan die jong blare van die bome in die straat. 

Ek wonder waar begin mens lief raak vir jou Taal en sy gedigte.  Sien, daar is steeds gedigte wat my horries gee.  Maar dan is daar gedigte wat my hart sag toevou en haar op reis neem na ‘n ander plek.  ‘n Ander tyd. 

My matriekjaar het bestaan uit ‘n koffertjie (daai wat mens eintlik sub. A saamneem skool toe), waarin net die essensiële dinge gepas het.  Die res het ek onder my arm gedra.  My Afrikaanse handboek, ‘Afrikaans My Taal’, was te groot om in die tassie te pas, so die moerse las moes los gedra word.  Die finale skeidslyn van my en my Taal…. as jy vir 4 van jou 5 hoërskool jare, dieselfde boring onderwyseres het vir Afrikaans, dan knak dit jou so, jy sit ‘n mental block op alles wat met daardie periodes te doen het. 

Dan mis jy uit.  Want vandag kan ek nie veel van my Afrikaanse periodes, spesifiek Poësie, onthou nie. 

Maar, ek dink dit het my ook ‘n voorsprong gebied om op my eie, weer Afrikaanse digkuns te ontdek, en met my eie interpretasies, ‘n beeld te vorm.  ‘n Storie te hoor. 

Soms pen op papier sit en ‘n eie probeerslag uit-ink.  

Paternoster – DJ Opperman 

Bind om my nek die beentjie van geluk

dat ek, Onse Vader, baie snoek uitpluk

en kind en kraai kan vreet

en ek ‘n volle week vergeet

met kitaarspeel en vaaljapie sluk