Persoon nommer 4 in my kring van mense wat ek ken, is dood.  My ouma se laaste suster.  ‘n Paar posts ondertoe het ek die wens uitgespreek dat nommer 3 genoeg was.  Ek wil nie nog mense wat ek ken, hierdie jaar aan die dood afstaan nie.  Dis net nie lekker nie.

Rosa trip gereeld terug in die verlede, en sy skryf tog te vermaaklik aan dinge wat sy as kind ervaar het.

En hierdie week het ek nostalgies teruggedink, en ook in die proses besef dat ons al hoe meer afgestomp raak in die land van ons.

Ek onthou die Huisgenoot as ‘n vreeslike groot boek.  As kind kon ek sommer daaragter wegkruip, of so het dit gevoel.

In ouma en oupa se huis was daar 2 soorte tydskrifte.  Die Huisgenoot en die Landbouweekblad.  Daarom kan ek my kop vandag nog nie daarom kry, dat wat ek gesien het, nie in een van daardie boeke sou wees nie.

Dit was skoolvakansie, en ek was ‘n laerskool kind, seker so standerd 3.  Onthou, die Kaap was nie ‘n grade plek nie.  Ons het Sub. A en B deurgespeel, en dan die standerds begin klouter.

Dit moes voor 12 gewees het, want die son het skuins by die kamervenster ingeval, en ek was op soek na prentjies om iets mee te maak.  En onder in die kas in die kamer, het ek ‘n tydskrif uitgehaal, en begin soek na prentjies.

Die prentjies wat ek op die ou end daardie dag gevind het, het my geskud tot vandag.  Op ‘n grasperk op ‘n plaas, iewers in ‘n buurland van Suid-Afrika, het ‘n gesin gele wat geskiet is deur terroriste.  Ek onthou nie veel van die ma en pa se foto nie, maar die klein seuntjie en die sussie het swart bloed op hulle gesigte gehad.  In hulle neuse.  En hulle dooie honde het langs hulle gele.

Ek was naar.  En ek dink dit was die eerste keer dat ek gesweet het.  Dit het geprikkel onder my arms, en my oe wou nie meer fokus nie.  Ek het die boek toegeslaan, en onder in die kas ingedruk.

En vir my ma gewys toe hulle my aan die einde van die vakansie kom haal het.  En sy het belowe dat dit ver hiervandaan gebeur het.  Dat ons regering dit nie hier sal toelaat nie.  Daar is ‘n weermag wat teen die terroriste veg.  Haar broer was toe een van hulle.

En ek het my asem uitgeblaas, want jy glo wat jou ma jou se.  Maar die wit kindertjies op die groen gras met die swart bloed is nooit uitgewis uit my gedagtes nie.

Verlede naweek is twee oumense op Kleinmond vermoor.  Twee oumense wat in daardie huis van my ouma en oupa gekom het.  Wat daar gekuier het, gesels het, gelag en gedroom het.

Sinneloos, brutaal, onnodig. 

Omdat ons nie meer mense het wat teen die terroriste veg nie?  Of omdat ons nie weet hoe ‘n terroris lyk nie?

Dis siek om te dink dat mens begin se, sodra jy hoor iemand is dood:  Dank Vader dit is nie deur geweld nie.

Die sweet steek weer onder my arms, my oe blur, en ek voel naar.

10 Responses to “V is for violence. Maar dit pla ons nie.”


  1. Ek trip maar terug, seker oor ek nie nou kan trip nie, en onseker is om oor more te trip. (maar ek weet van nou)

    Jou inskrywing is ongelooflik, op soveel maniere.
    Ek is so jammer oor jou seer.


  2. Ek het hierdie woorde al soveel keer kwytgeraak en nou doen ek dit maar weer: Wat my baie bekommer is dat SAners skynbaar besig is om afgestomp te raak vir die geweld en gewelddadige misdaad as ‘n “gegewe” begin aanvaar. Dit mag NOOIT gebeur nie! Elke misdaadgedrewe dood is onaanvaarbaar, afgryslik, abnormaal en een te veel!!!!

  3. skoor Says:

    My punt presies, Boer. Ek onthou my absolute vrees, skok en walging.

    As ek vandag in die huis instap, en Skoorlief se enetjie sit voor die TV, dan waai die ledemate, die koeelgate sit die koppe vol, en lyke le gestrooi.

    Watse generasies word grootgemaak as hulle van kleins af dink dit is hoe mense teenoor mekaar optree?

    Jis, ek sukkel met die konsep. Ek wens soms ons wil heeltemal uit elektrisiteit hardloop, net om die kids te red!

    ‘n Lewe in SA is niks meer werd nie. Respek is ‘n woord in die woordeboek.

  4. Sonkind Says:

    Ek stem, BiB. Ons het so blasé geraak oor geweld, dit raak ons eintlik glad nie meer nie, solank dit nie iemand naby aan ons is nie.

    Ons word beroof en ons dink dis maar okay, want ons is nie doodgemaak nie. En word ons wel doodgemaak, is ons net vir ‘n wyle opstandig en dan gaan almal maar net weer aan met hul lewens. Dis nie hoe die lewe behoort te wees nie en een en elkeen van ons wat in hierdie land wil bly, moet iets doen hieraan. Ons is almal skuldig. Skuldig daaraan dat ons dit net aanvaar.

  5. boendoe Says:

    Maar WAT moet mens doen??? Hoe kan jy, as een, enkele individu, ‘n verskil maak? *sug*

    Skoor, noudat my kinders groter is, het ek nie juis meer se oor wat hulle kyk nie, maar toe hulle klein was, het ek met arendsoe gekyk waarna hulle kyk. Hulle kon eerder na sexy flieks kyk voordat ek hulle sou toelaat om na geweldadige goed te kyk. Ek glo as kinders van kleins af violence met ‘n lepel ingegee is, hulle nie ‘n oog gaan knip as dit by die regte lewe kom nie.

    Ek wou eintlik se, simpatie met julle verlies. Ek’s jammer dit het nie by 3 opgehou nie.

  6. flippiefanus Says:

    Skoor jammer om te hoor van jou verlies.

    Die misdaad situasie het my ook al baie ontsteld gehad en Sonkind ek het ook al gevoel ek moet iets help doen om die situasie te verander en Boendoe ek het ook by die punt gekom dat ek nie weet wat om te doen nie. Op hierdie stadium voel dit vir my as ek net my klein deeltjie kan bydrae om mense op te hef sal dit eendag, miskien eers na my geslag, wel ‘n verskil maak. So dis maar wat ek probeer.

  7. reisiger Says:

    Dit laat mens magteloos voel dat jy nie iets daaraan kan doen nie!!

  8. Eilandkind Says:

    Ek onthou ook die deurlees van ou Huisgenote as tiener en ‘n skokkende iets wat ek gesien het en steeds nie kan vergeet nie.
    Dit laat mens nogal wonder wat al die openlike geweld wat kinders nou mee opgroei aan hulle psige doen.
    Wonderlike blog, ek wens so mens kon dinge verander in SA.
    Dankie vir jou raad die ander dag oor anti-virus goete, ek het toe albei afgelaai en dit werk goed.

  9. Skoor Says:

    Juis Eilandkind – juis.

    Ek het noudie dag so lekker gelees daar by Rosa oor die Nightmare on Elm street storie, maar dit het afterall my jare geneem om oor te kom.

    Vandag is dit soos massa force-feeding as die kidz computer games speel of die TV aansit.

    Ek raak baie opstandig, en dan wil ek net nooit ‘n kind he nie. Want myne sal seker soos arme Het van Verlangekraal net mooi NIKS he nie. Soos in tegnologies.

    Bly daai anti-virus adresse het vir jou iets beteken.


Leave a Reply