Dan trip ons maar down memory lane
Julie 23, 2008
Ek het ‘n koor juffrou op laerskool gehad wat nogal enige sagtehart kind kon laat afsien van sing, om nie van die one to one met klavierlesse te praat nie. My broer het by haar klavier geneem, maar sy was blykbaar toe nie so bad nie.
Ek het klavier by die ander juffrou geneem. En soms as ek sit en wag in die kantoortjie voor die musiek klasse, het ek gehoor hoe sy op die kinders gil.
Sy het eendag die klavier, tydens ‘n koor oefening, so hard gemoer, die hele boonste hout gedeelte het gebreek. Toe gryp sy haar handsak, skree vir haar kind (hy het ook koor gesing) dat hy moet kom, en toe waai sy. Toe sit die hele koor daar. Doodgeskrik. Vrek verskrik. Ek dink ons het die klas na 15 minute verlaat toe ons besef sy is huis toe. Of iemand het by die ruit uitgehang en gesien die silwer Golf ry teen die bult af. Ek kan nie onthou nie. Ek het gewonder of die klavier se klank nou nie belemmer sou wees met die harde hou, en met die verskuiwing in struktuur nie.
Hulle het jare gelede, nog voor almal holderstebolder land-uit is, Nieu Zealand toe getrek. Ek wonder soms of sy aard daar. Sy skree seker ook maar die koppe af daai kant van die see, maar party mense kalmeer mos darem as die grys hare meer word. Ek wonder wel watse soort kinders haar 3 uitgedraai het! Met so ‘n ma kon dit net fataal gewees het.
My sub. A juffrou was ‘n oujongnooi. Sy het later vir kinders van oud-skoliere skoolgegee. Ek wonder of sy nog leef. Dit moet nogal ‘n skok op ‘n ou se gestel wees as jy die oggend die register van jou nuwe klas deurgaan, en bekende trekke van jaaaare terug, herken! En dit nog by dieselfde skool.
Ons het eendag kuns gehad in haar klas, en toe moes ons die landsvlag teken, en dan met swart kryt bo-oor krap, en dan krap jy met ‘n skerp voorwerp patrone uit (almal het daai gedoen, komaan, moenie so frons nie). Ek wou my kunswerk perfek he. En toe pouse aanbreek is ek nog nie halfpad nie. Toe raas sy met my omdat ek so lank neem. Die donirse vrou.
Is dit miskien waar my blokkasie teenoor kuns gekom het? Of kan ek eenvoudig not de hel teken nie? Ek het so 2 jaar gelede kunsklasse in die aand begin neem, heel okay gevorder, maar toe ry die lewe weer met sy gat na my toe, en die kreatiwiteit vries.
Maar daai malantillie van ‘n koorjuffrou kon my gees vir koorsing nie demp nie. Ek het vir 12 jaar van skool gesing. Op hoe”rskool (ek moes die ” insit
) in die naasbeste skoolkoor in die land gesing, en elke harde oefening geniet.
Ek like musiek. Mooi musiek praat met my. Woorde praat met my. En as woorde ‘n ritme het en die klank kom le in die holte van my oor, dan kan ek stil tevrede glimlag.
Julie 23, 2008 at 5:17 nm
Ek wens ek kan my gr 2 Juffrou wat al horingoud was toe sy my gr 2 Juffrou was in die hande kry. Ek het ‘n appel of 10 met haar te skil. En ek gaan net so onregverdig wees as wat sy was.
Julie 23, 2008 at 6:45 nm
Ek het jare nadat ek uit die skool is bevriend geraak met my graad 2 juffrou en tot vandag toe hou ons kontak. Ek kan egter een juffrou onthou wat so geskree en gevloek het dat omtrent al die kinders in haar klas gereeld glipsies gekry het.
Ek is ook mal oor musiek. Ek luister elke wakker oomblik van elke dag musiek en mense kan ek sing… So vals soos ‘n gans maar who cares, dis my huis, my stem en my kinders… Hulle mag maar so vals soos mamma sing
Julie 23, 2008 at 7:27 nm
Ek het klavierlesse geneem in st 5 en die juffrou was ook ‘n bleddie heks. Toe gil sy weer eendag op my oor ek my hand se brug laat sak en dis net daar waar ek vir die eerste en enigste keer in my lewe terug geskree het op ‘n onderwyseres!!
Sy’t nie lank daarna nie bedank en ons het ‘n nuwe musiekjuffrou gekry en toe het my musiek ook sommer baie verbeter!
Ek kan my nie ‘n lewe sonder musiek voorstel nie!!
Julie 24, 2008 at 8:13 vm
Ek is seker ons het al almal ‘n heks of 2 gehad op skool! Ek het ‘n juffie in St.2 gehad wat geskors is op di eou einde, maar sy was nie lekker nie! Ek doen nou nog daai “kleur jou prentjie swart in en teken daarin” met die kids hier by my! Small things amuses small minds…
Julie 24, 2008 at 8:25 vm
Adrie, ek het ook so ‘n bitch van die hoe”rskool wat ek seker lag-lag sal raakry, sou sy voor my verbystap. So ‘n verbitterde mens wat eintlik net ‘n goeie vry moes kry om haar mees los te kry!
Pikkelik, ek stem: in jou huis kan jy vals sing. En in jou tuin!
Ek wens ek het meer uithouvermoe gehad met my klavier, maar dit was vir my net so erg soos skool. Jy’s gelukkig Reisiger, dat jy dit steeds het as deel van jou mondering.
Kaalvoet, ‘n wenresep moenie aan getorring word nie! Ek loop koop sommer vetkryt, of gaan Spur toe vanaand…
Julie 24, 2008 at 8:26 vm
Ek bedoel MEER, Adrie, ek weet nie hoe ‘n los mees lyk nie, maar ek wil nie eens begin imagine nie…
Julie 24, 2008 at 8:36 vm
Wat praat jy Skoor? EK het ‘n hele arsenaal vetkryte en koukies….hehehe!
Julie 24, 2008 at 8:37 vm
O ja…en ‘n “mees” is die afrikaanse naam vir die engelse “tit” dis ‘n voelsoort hoor! Hehehe! Ek het al baie sports daarmee gehad
Julie 24, 2008 at 9:22 vm
Baie dankie vir die inloer by my!! Ja, ongelukkig was daar maar hekse op skool! Hulle kan ‘n kind maak of breek! My kreatiwiteite het met die jare saam ongelukkig verroes! Seker maar van ouderdom!
Julie 24, 2008 at 12:18 nm
Lekker memories!
Julie 24, 2008 at 6:58 nm
Ek het net nooi gevorder met die klavierlesse nie, die talent was net nie daar nie. Ai.
Lekker storie.
Julie 25, 2008 at 12:39 nm
Ek het klavierlesse by my ouma gekry – sy was ‘n opgeleide pianis en soprano (sy het gesukkel en vasgebyt, maar ek kon om de dood nie die ding ooit behoorlik speel nie – arme ouma het eintlik seker groot drome gedroom… ek het darem in die skoolkoor gesing – al 12 jaar van my skoolloopbaan – ek seg steeds dis waar ek geleer het om te harmonize – so te sê die oor ontwikkel het daarvoor – ek harmonize self op al my opnames) en boonop glo ek ook dat daardie grondslag my net genoeg aanvoeling gegee het om my goedjies behoorlik te kan toonset (max 5 akkoorde op die kitaar – but who cares?) – en ouma se droom het weer nie waar geword nie – sy’t gewens ek gaan ‘n soprano word – at best doen ek ‘n Alt – maar van St 6 af het ek in die seunsry van die tenore gestaan
My Sub A juffrou en haar man het ‘n paar jaar gelede bure geword van my pa – in ‘n klein dorpie in Duitsland (Pleisweiler – inwoners: 1200) – moerawiese toeval?!! Ek het haar toe weer gesien 2 jaar terug en sy is steeds die minsame ou self van destyds.
Die kunsstorie, glo ek is soos enige ander talent – you got to keep doing it, to be able to do it, skat
Julie 27, 2008 at 4:14 nm
Ek het ‘n WONDERLIKE musiekjuffrou gehad…as iemand ooit Mev van der Spuy raakloop wat ‘n musiekjuffrou in haar jonger dae was…se vir haar wat ek se! Saggeaard en baie, baie geduld met enige kind… ek was erg oor haar. en gepraat van onnies! Net gister los ‘n ou op een van my links ‘n boodskap! Sy ma!! was my gr1-st1 onderwyseres — ‘n plaasskooltjie wat toegemaak het toe ek st1 was en ons moes dorpskool toe gaan, sy het saam gegaan, was my st2 onderwyseres, ‘n WONDERLIKE vrou…!! Sy leef steeds en ek en hy email nou mekaar! Sjoe, hierdie wereld is klein! Hy bly selfs byna teenaan die plaas waar ek grootgeword het en het al klaar vir my mooi foto’s van die plaas gestuur waar ek grootgeword het! pure memories!! en ons kuier ‘n hond uit ‘n bos oor die “ou” goeie dae…sy niggie was saam met my, hoofmeisie ook, nou ‘n onnie by Hoerskool Waterkloof…was eers by Menlopark…tweede persoon van my ou omgewing wat my opspoor op my blog!
lekker dag! bly my onnies het nie so geskree nie… lol!
Julie 27, 2008 at 4:15 nm
Roer, ek weet nie wat het met my kommentaar geword nie!! is dit dalk in spam??
Julie 28, 2008 at 11:46 vm
Sorrie Nikita, jy was gespam vir een of ander rede!
Ja julle, so kan ons boekdele skryf oor die skool dae, maar ek verruil my jare op skool, NIE vir vandag se skool nie. Te veel nonsens wat tussen daai 4 mure gebeur.
Augustus 8, 2008 at 2:10 nm
*tip* om ‘n ë te maak: Alt + 137
Augustus 8, 2008 at 3:13 nm
Krista, gee nog tips, die een werk nie op my laptop nie!
Augustus 9, 2008 at 12:25 nm
Krista…daardie alt 137/alt 136 (vir die kappie) funksies werk glad nie op my rekenaar met Vista nie… ek het nog nie tyd gespandeer om uit te vind waar hulle nou sit nie, maar gelukkig het WP nou hulle met die symbol-funksie, maar nie wanneer jy kommentaar los nie, dus, as jy weet..laat my ook weet!
ek het ‘n lysie van daardie alt-funksies, maar het hom al weggesit, hulle werk nie hier nie, weet nie of dit my sleutelbord (Compaq-Engelse taal) is nie.
Augustus 9, 2008 at 12:30 nm
Die alt funksies werk ongelukkig op bitter min laptops. Dit is net ons outydse outjies wat nog met ‘n desktop kompie werk wat dit ordentlik kan regkry… Skies hoor, maar hier is so paar.
alt 136 – ê
alt 137 – ë
alt 138 – è
alt 13 – ♪
alt 14 – ♫
alt 3 – ♥
alt 15 – ☼
Augustus 9, 2008 at 1:00 nm
Dankie Pikkelik… my rekenaar is ‘n gewone desktop en ek weet nie wat ek verkeerd doen dat daardie funksies nie werk nie, ek probeer dit nie eers meer nie, ek het dit eenkeer in ‘n email probeer en ek was besig met ‘n lang email, toe’s my email helemal weg!