Mooi stories in ‘n glas vol Jack
Julie 10, 2008
Die vuur in die kaggel knetter, en ek het die wegsteek bottel Jack gaan uithaal en my Generaal Koos de la Rey glas ‘n goeie skeut op ys toegedien.
Ek moet maar die Jack wegsteek, want Skoorlief maak ‘n bottel sommer vinnig pap as mens nie die bottel met lyntjies merk nie – nie dat ‘n gesoute Jack dief nie weet van water bygooi nie, maar ek twyfel of die Jack lus tot sulke uiterstes sal gaan. Ek sal egter my eie Jack afdwaling, en die Karen Zoid konsert, net so onder die mat hou, waar dit nog altyd le. Ek vertel nie graag my eie skandes nie, maar wees gewaarsku: witwyn in oormaat, en Jack sonder om te tel, laat mens vreemde dinge aanvang!
Rosalind Franklin het ‘n tyd gelede ‘n stuk geskryf oor ene Dr. James Barry, en ‘n oogknip voor dit, het ek op die program, Phantom, gehoor van die dokter, en die geskiedkundige woning, Aplhen Estate.
My belangstelling word geprikkel, en as ek ABO hoor, spits my ore ekstra bak. Na die program, en na korrespondensie en blog comments tussen myself en Rosa, het ek besluit om Alphen te gaan besoek.
Ons is vandag, die eerste dag na ‘n week van wilde weer, die Kaap in. Vir die Boerkind ‘n vreeslikheid, ek is altyd poot-uit na so ‘n dag Kaap toe, maar as jy op die paaie van die voormense wil loop, moet jy soms die paaie van ontwikkeling aandurf!
Wat vir my so besonders is van die Alphen geskiedenis, is nie die feit dat die Cloete gesin die eienaars van hierdie grond is sedert 1850 nie, en ook nie dat die stamvader, Jacob Cloete saam met Jan aan wal gestap het nie, maar die huwelik tussen Henry Cloete, ‘n Hollandse afstammeling, en Christina Deliana van Warmelo. Henry was die Britte goedgesind gedurende die Anglo Boereoorlog wat tussen 1899 en 1902 in ons land gewoed het, maar sy vrou, Deliana, sou oor haar dooie liggaam, nooit die Britse saak ondersteun nie. Daarvoor was haar bloed te suiwer Boer.
Sy was die suster van Johanna Brandt. As jy die geskiedenis ken, sal jy weet wie Johanna Brandt was, en wat haar rol in die geskiedenis was. Baie mense maak haar af as ‘n vrou met vreeslike verbeelding, ‘n versteurder, terwyl ander het haar onvoorwaardelik geglo het.
Deliana het dus, wanneer Britse offisiere en hooggeplaasdes, Alphen besoek, gesorg dat sy varkoor gooi, en dan nota’s in ‘n boom buite die huis gesit, wat later deur Boere opgetel is, en slagveld toe gehaas is. By geleentheid het sy ook nota’s in ‘n pop se klere vasgewerk, en dit na haar suster in die Transvaal versend. Die suster het dit by die Boere generaals laat aflewer op die slagveld.
Poppe met boodskappe in die kop, is ook weer teruggestuur na die Cloete kinders, en het vanaf Alphen, via Deliana, weer hulle weg gevind.
Ek dink dit is ‘n verskriklike mooi storie. Wat sou maak dat Henry Cloete die Britse saak ondersteun het? Behalwe die feit dat hy vriende was met manne Kitchener en Rhodes? Geld? Mag? Grond eienaarskap? Wie weet. En wanneer het die waarheid uitgekom oor Deliana se hulp aan die Boeremagte? En wat was Henry se reaksie hierop?
Kyk, op vele van die buitegeboue van Alphen landgoed, is die nota dat Deliana die hoeksteen gele het vir die struktuur. So die tannie kon ‘n graaf swaai. Miskien moes Henry maar ligloop in die vertrekke van die herehuis!
Vandag kruis die vlagpale van die Vierkleur en die Union Jack in die pub op die gronde, Die Boer en Brit. Die huidige matriarg, Nicky Cloete-Hopkins, skryf in ‘n opsomming teen die muur, onder die vlae, die volgende:
‘In honouring the Vierkleur and the Union Jack, we remember, mark and close an important chapter in our history.’
Ook skryf sy in ‘n boekie wat ek gekry het oor die geskiedenis van Alphen, die volgende: ‘It has been
suggested to us that our colonial heritage and style is not in keeping with the New South Africa. I understood a Rainbow Nation to be made up of differing, complementing colours and cultures – not someone’s ideas of politically correct shades of grey.
I wonder how our critics propose changing our history of making us more Afrocentric? Perhaps we could paint the facade of the Manor House with Eastern Cape kraal patterns; put putu on the menu; replace baths, bidets and heated towel rails with ethnic facilities. The mind boggles.
Alphen is circa 1750. At the time the estate was developed and built, the cultural influences came from Europe and, to a certain extent, the East.’
‘n Vurige nasaat van Deliana. Miskien ook koppige Boerebloed deur daardie are. Wie weet. Maar iemand wat nie skaam is om haar verlede te erken nie. En die invloede. Iets wat ons ter harte kan neem, veral omdat die huidige regeerders uit stamme kom wat mense wat nie trots is nie, verag. En mense wat ‘n kruipende houding het, verwerp.
…Deur ons ver verlate vlaktes, met die kreun van ossewa, ruis die stem van ons geliefde, van ons land, Suid-Afrika… Laat ons dan nie mense soos Deliana en Sarah Rahl en talle onbesonge heldinne vergeet nie, en mag ons die krag kry om ook op te staan vir dit waarin ons glo.
En mag oom Paul se woorde eggo’s maak in ons selle: ‘neem uit die verlede, dit wat goed was, en bou daarop in die toekoms.’
Julie 11, 2008 at 9:52 vm
Dis vir my ook vreeslik lekker om geskiedkundige plekke te besoek!!
Geniet maar so knertsie Jack, dit is goed vir die koue
Julie 11, 2008 at 12:25 nm
Ek wens ek het vandag ‘n vaatjie Jack gehad vir hierdie koue! Ek het hierdie inskrywing vreeslik geniet! Ek is mal oor goed wat my brein bietjie prikkel!
Julie 11, 2008 at 12:39 nm
Ditto!!
Julie 11, 2008 at 3:15 nm
Lekker, bly julle was daar.
En dankie vir die heerlike inskrywing. Veel om aan te herkou.
(het julle dr Barry se skildery gesien)
Julie 11, 2008 at 3:57 nm
baie interesant ekt dit gekopieer want hierdie pers letters gan my ‘n migraine gee
shoe die stories darem wat uit daai tye kom
ekt nog ‘n paar africana boeke hier wat ek wil lees
xxx
Julie 11, 2008 at 4:55 nm
ja Rosa, het dit afgeneem, sal dit vir jou mail – dis steeds dem lelik daai gesiggie!
Julie 11, 2008 at 5:25 nm
o dankie, ek is weer te haastig. shame man, hy/sy kannie help nie.
Julie 12, 2008 at 9:12 nm
As jy sulke lekker stories vertel net van een glasie Jack, dan deel ek met graagte my hele bottel Jack, wat ek persent gekry het, met jou, sodat ek nog baie stories kan hoor!
Julie 12, 2008 at 10:37 nm
Janee, wragtig, jy kan ‘n storie vertel! Vir my baie interessant, aangesien ek ‘n nooi Cloete is. Na jou storie egter, weet ek dat die durf en daad van Deliana afkomstig is, ek hou daarvan. Aan die anderkant kan dit wees dat hulle deurmekaar geraak het en ek eintlik afstam van een van die poppe met boodskappe in die koppe. Alle grappies op ‘n stokkie, baie nice post.
Julie 13, 2008 at 1:31 nm
Sover my kennis strek was Rhodes ‘n Vrymesselaar en sekerlik Kitchener ook. Dus is jy reg as jy se dit het gegaan oor mag en geld, want Henry Cloete was natuurlik ook ‘n Mason en moes maar vir sy eie sak sorg. Dalk het hy geweet van Deliana se geheime hulp aan die boere, miskien selfs gecover, wie weet. . .
Julie 13, 2008 at 1:34 nm
Dalk hoop ek maar net die Cloete’s was ook hero’s
Julie 14, 2008 at 8:24 nm
Son, daar’s ‘n fyn lyn tussen lekker stories vertel, en nonsens praat, veral as Jack die maatstaf is!
Emmabel, ek dink jy kom uit ‘n sterk bloedlyn – kyk wat het jy al alles deurstaan.
Julie 16, 2008 at 10:20 vm
Dit was nou ‘n interessante stukkie geskiedenis. Ek het ook van daai vurige Boerebloed in my are!
Groetnis