Herfs happies

February 28, 2008

Die lig skyn skielik anders. 

Ek weet Februarie is tradisioneel ‘n helwarm maand in die Kaap, maar toe ek gister die 11mm reen uit die reenmeter gooi, was ek seker ek het die aarde hoor sug.  ‘n Tevrede sug.  

Dis dan nou tyd om ‘n herfs happie met ‘n byt voor te berei. 

Koop ‘n gesnyde witbrood – hopelik die eerste en enigste vir die jaar, want daai ongesonde windbrood is genoeg om mens suurkrop te gee.

Sny die korsies af, sodat jy met skoon vierkantjies sit.

Neem ‘n koekroller en rol die snye een vir een plat en windloos.  Dit behoort nou ‘n dun velletjie te wees.  Jy kan die Klippies bottel ook nadertrek as jy laas die koekroller op manlief se voorkop gekraak het.  ’n Boervrou maak mos ‘n plan.

Neem jou skerpste mes, en sny ‘n groen rissie (greenpepper) in fyn blokkies.  Doen ook so met ‘n ui, en ‘n halwe huisie knoffel.  Jip, lig jou wenkbroue vir my halwe huisie knoffel, maar in die happie wil ons nie knoffel as hoofbestanddeel he nie.

Nou neem jy ‘n groenrissie (chilli) en besluit of jy man (vrou) of muis is, en verwyder dan die pitte, of nie, geoordeel aan jou besluit.  Sny dit ook fyn, en gooi olyf olie in ‘n pan, en soteer die rissies, ui en knoffel, tot daar ‘n mate van ontspanne sagtheid in hulle verskyn.

Rasper ‘n sterk cheddarkaas met die fyn rasper, en hou eenkant.  Sodra die groentemengsel bietjie afgekoel het, sit jy ‘n dun lagie daarvan op ‘n broodvelletjie, gevolg deur ‘n dun lagie cheddar.

Rol nou die broodjie op, so styf moontlik, en steek met ‘n tandestokkie vas om die vulsel binne te hou.

Sit op ‘n bakplaat, bo-op foelie, en gooi ‘n bietjie olyfolie bo-oor die rolletjies.  Bak vir so 15 minute by 180 grade celcius, en skroei die puntjies deur die grill aan te sit, en met jou neus teen die oond se venster, want as jy wegdraai om te nies, gaan hulle brand!

Gooi bietjie paprika oor as jy dit uithaal, so vir ‘n sexy look.  Mooi kos eet tog lekkerder as vaal velle.

Sit voor met ‘n ligte rooiwyn of Chardonnay, terwyl die son sak deur die blare wat nou al begin tekens toon van verkleuring.

26 Responses to “Herfs happies”

  1. mykopop Says:

    Dit klink lekker!

  2. netjane Says:

    Dit klink BAIE lekker en ek het juis Saterdag mense wat kom eet.

  3. Roer Says:

    Jissie Skoor. Jy het talente wat skrik vir niks. Dit klink ongelooflik lekker. Ek gaat hom try.

  4. René Says:

    o my genade, nou is ek honger … ek gaan die vanaand probeer…

  5. Skoor Says:

    Gewaarborg die moeite werd, julle almal. Neem my woord. Moet die bestanddele netnie opplak nie, want dan sukkel jy om die rolletjie te rol. Dit moet soos ‘n swiss roll se draaitjies lyk.

  6. boendoe Says:

    As jy dan nou nie BBC Food toe wil gaan nie, skryf dan ten minste ‘n kosboek. Mense wat nie kook nie, soos ek, sal hom koop en lees net vir jou lawwighede!

  7. Marina Says:

    Dit gaan die naweek in my huis beproef word!!!!
    Ek sekondeer Roer!

  8. sonkind Says:

    En saam hiermee, vir poeding? Ek dink Chocolate Mousse – wyk satan wyk, ek eet nie meer chocolates nie, nie eers al MOUSSE ek nie! :lol:

  9. Jasper Says:

    Of as jy nie rissies het nie, koop ‘n pakkie sweet chilli chips en stamp dit fyn met die pestal en mortar. Sit dit dan op die platgerolde affere met die kaas op en druk fit in die oond met jou snoet teen die ruit om seker te maak die lot brand nie….

  10. narrator Says:

    hallo skoor,
    dankie vir die inloer op my blog. ek geniet nogal die suidafrikaanse digivriende. die resep lyk baie lekkr. ek is bly om so nou en dan ‘n potjie te maak. die lekkerste is om dit tydens die kampvakansie te doen, maar ons het eendag met kersfees ‘n potjie gemaak. dit was vrekkoud en die mense het almal in die huis gesit terwyl ek buite staan en koudkry. dit was darem baie lekker en ons het dit geniet. die geniet was groter toe die pot heeltemal leeg geëet is. die kinders kom ruik so nou en dan “dit ruik soos Afriks” is altyd hulle kommentaar. dan weet ek, díe pot is goed en hulle sal lekker eet.
    ek hoop sommer gou gou weer van jou te lees.
    groete uit NL waar die wind nou waai en die temperatuur hier rond 5 grade celsius is.

  11. skoor Says:

    Welkom narrator! Daar is darem min so lekker soos ‘n potjie – dis is mos eintlik maar ‘n bredie wat op die vuur gekook word, en wat die rookreuk as ekstra spesery bykry. Mense wil altyd vreeslik tegnies raak met potjiekos maak, maar dis maar soos op ‘n stoof, behalwe dat jy konstant moet kyk dat sy pens nie te warm word, en die kos aanbrand nie. Dis heerlik om te hoor julle daar ver, doen dit ook so!

    Ons is vandag naby 30 grade celsius, so ek wens ek was jy wat ‘n serp kon aansit vandag. :-)

    Jasper, lyk my ek moet jou nadersleep vir die hulp met my eerste boek? Die enigste wat jy sal mis in die rolletjies, is die sagte groente. Die rolletjie buite-om moet knars, maar ek weet nie of die binne knars gaan werk nie. En waar kry jy sterk genoeg chips wat die regte ding goed genoeg gaan vervang??

    Ai Son, jy mousse maar na my geluister het en daai tjoklit geneem het. Nou gaan jy heeldag gepla word deur drogbeelde van ‘n slab terwyl jy jou kruiwa stoot. Jy weet, sulke devided minds maak dat jy nie lekker konsentreer op wat jy tans besig is om te doen nie, en netnou eindig jy op in die verkeerde huis…

    Lekkertes vir julle almal. Vandag en die naweek!

  12. René Says:

    Wat gemaak as jy nie heeltemal so baie van die brandgoedjies hou nie??

    Kyk, enige iets wat van bek dwarsdeur tot by poepol kan brand hou ek maar verby mee! Noem my dan maar ‘n sissie!! My skouers is breed, ek kan dit vat!!

    Hahaha Jasper – ek lag nou lekker vir myself – ek lees jou comment as volg – “met jou snoet teen die ruit om seker te maak die lont brand nie”!!! Whahahaha! :lol:

  13. René Says:

    Son – tjoklits is groente – dit maak nie vet nie!!

  14. Zee Says:

    Mmmmm, dit was lekker :)
    Morê is dit weer tyd vir “Foolproof chickenwings vir Zee”

  15. skoor Says:

    Sissie Rene, los dan maar die brandrissie uit, en sit net groenrissie in. Jy kan darem bly wees jy bly nie by my nie, geen genade tussen my vier mure vir die inwoners. Van knoffel tot Tobasco – eet en drink water as jy sukkel om die punch te vat.:-)

    Lekker Zee – jy weet mos dis nie liegstories wat ek hier opdis nie.


  16. Hoe water my mond nou. Jy kan darem so lekker kook. Ma gee tog vir my raad: Hoe kry ek ‘n bredie se sous dik, dit bly altyd dun. Soos in ek is ernstig. Dankie

  17. skoor Says:

    Op 4 maniere – jy kook die gereg met die deksel af, baie vloeistof verdamp, en die kooksel reduseer tot ‘n natuurlike dik sous.

    Of jy neem ‘n opgehoopte teelepel maizena, meng dit met bietjie kouewater, en roer dit in – die sous behoort stelselmatig dik te word.

    Gebruik bruin uie soppoeier i.p.v sout – obviously ‘n verdikkingsmiddel, veral as jy ‘n ‘hearty broth’ kook.

    Wanneer jy aartappels in ‘n bredie gooi, verdik dit namate die aartappel sagkook en opbreek, maar die kits aartappels, SMASH, is net so ‘n bom vir water in ‘n diksous verander.

    Ek verkies maar die tweede half van die kookproses sonder deksel. Geduld is die wagwoord.


  18. Dankie baie! Ek stem saam dat jy vir ons ‘n kookboek met skryf. Ek koop die eerste een!

  19. Nikita Says:

    Jy en Bib…sal saam julle boeke publiseer en ons laat weet van die “groot dag”! ;)

  20. Jasper Says:

    Skoor,
    glo my, daai chips bly krakerig
    veral vir ‘n honger skoolseun wat die brood platgerol het met ‘n leeg ou fanta bottel (die 500ml ene met die riffels) ;)

  21. skoor Says:

    Jasper, min dinge so lekker soos masjiengesnyde goewerment witbrood, met REGTE botter, en fyngemaakte Kaas en Uie chips bo-op. En ‘n lekker blikbeker soet tee.

    Verlang ek nou terug na my hoe”rskool dae. Ek moes net die ” insit!!!

  22. wipneus Says:

    Wow, die goed is maklik en dit klink lekker, dankie dat jy dit met ons deel om ons lewe makliker en obviously lekkerder te maak.

  23. Louw de Twak Says:

    As gevolg van vele redes en vele dinge, onder andere die teen my sin skenking van my internet kaart aan iemand iewers in ‘n plakkerskampie, was ek internet-loos vir ‘n rukkie…….die bliksems!

  24. Da Mario Says:

    Kan ek dit nogsteeds maak of is dit ‘n Februarie alleenlik-dish? :lol:

  25. Dellie Says:

    Hmmm, klink heerlik! Ek het al my eie “Skoor Resepte” boekie opgemaak. Jy gooi darem die lekkerste goete hier uit. Thanx!


Leave a Reply