Dellie se Tag Speletjie – die challenge aanvaar
November 27, 2007
1
Hie inni Kaap het o’s mossie gra(d)te gehad nie, net die visse inni see was da’mee toegerus, so toe ek in st. 1 was, het ons onderwyseres, Juffrou Hougaard, my en Annalize Niemandt gemeet, en Annalize was ‘n hele 1cm langer as ek. Ons was altyd kop aan kop, die eerste paar jare van skool wat lengte betref…. Toe ek laas vir Annalize gesien het, kon sy onder my tieties deurloop!
2
Ek is ‘n groot introvert, en ek hou gladnie van baie mense nie, maar een keer ‘n jaar kry ek ‘n geit, en dan kan ek perform soos Casper de Vries se suster.
3
Ek is tans besig met asemhalingsoefeninge om myself te sentreer, want ek moet met die munisipaliteit gaan baklei oor my huisplanne, wat na amper 4 maande, nie aan geraak is nie, omdat onbevoegdes daarmee werk. Ek het ‘n helse humeur…
4
Ek is verlangse familie van Boerneef
5
Ek kan dinge met my hande regmaak. Soos ‘n kragprop aansit, en ‘n motorbattery vervang – ek glo ‘n vrou moet vir haarself ook kan sorg, want as die Boervroue in 1899-1902 dit kon doen (en daarvoor en daarna!), hoekom kan ek nie ook nie?
6
Ek het vir 27 jaar van my lewe op ‘n plaas gewoon. En toe dorp toe getrek. Ek het gedink ek gaan doodgaan! Ek het nie. Maar ek het my eie ‘plaasdam’ in my agterplaas gebou – ‘n struktuur van 1.5×1.5×1, waarin ek reenwater opvang, en my plantjies mee natgooi.
7
Ek wou altyd op laerskool ‘n gebreekte arm he. Ek het hoeveel middae van die stoep van ons Kaaps Hollandse huis gespring en op my arms probeer val dat hulle breek! Dit het nie gewerk nie.
8
Ek worry oor die mentaliteit van die Suid-Afrikaner. Ons volgende president kan ‘n verkragter wees. Watter respek toon sy optrede, vir vroue van die land? Verder wonder ek hoe donirs dom dit is van die vroueliga van die anc, om hulle agter hom te skaar. Net die Here kan ons red van hierdie blessitse sirkus.
November 27, 2007 at 8:25 vm
Hehe, jy WOU ‘n arm breek sê jy? Hoeveel blou kolle het jy in die proses opgedoen?
Sterkte met die mislikepaliteit – as dit by jou gaan soos by ons, het jy beslis my simpatie!
November 27, 2007 at 8:50 vm
Nee, kyk, nou bloos ek skoon van onsekerheid! Ek het altyd gedink…mag ek dit hard se??…jy’s ‘n man (!!), en nou blyk dit nie die geval te wees nie? Ek voel nou soos ‘n aap.
November 27, 2007 at 9:36 vm
Ahhhhhh! Toe nou nie!
November 27, 2007 at 9:43 vm
Ek het gehoor asyn werk vir arm breek, maar ek was altyd te bang om te probeer.
November 27, 2007 at 9:51 vm
Asyn werk kastig om skulpe sag te maak ook…wetie so mooi van daai ene nie. En in die storie van Jack ‘n Jill het hy asyn en bruinpapier om sy gekraakte skedel gedraai…daai het nog minder sin gemaak…sag in die kop?
Of course is Skoor ‘n girl…die avatar boendoe, die avatar…giggel
Wou en het darem nog nooit niks gebreek nie. Het steke gehad, nooit as kind nie, maar as grootmens.
Boerneef…interesting. Hoe ver is ver Skoor?
November 27, 2007 at 10:25 vm
Roer, die asyn…snuif jy dit? Drink jy dit? Spuit jy dit in? Of draai jy die deel wat moet breek, in asyn lappe toe? En hoe verder?
Nee Dellie, rowwe Skoorkind het nie gekneus in haar jongdae nie, meer as wat ek van deesdae kan seg. En oor die mislikepaliteit gaan ek nog ‘n stukkie skryf, dan sal ek weer as rassis gestenig word, for sure.
Boerneef was Oupa se neef, Stoutstesus. So die bloed is maar baie verdun, maar eendag gaan ek dat Skoorlief vir jou van die oordra van memory deur die geslagte skrywe. Ek sou, maar ek sal dit heeltemal verkeerd kry. Fassinerend.
November 27, 2007 at 1:19 nm
Uhmm…presies HOEKOM wou jy jou arm breek???
November 27, 2007 at 2:12 nm
BiB
Nie net was dit cool om gips te he nie, maar almal kon daarop skryf, en jou boyfriend het jou goed vir jou gedra!
Die mentaliteit van ‘n laerskool kind…
November 27, 2007 at 3:48 nm
Hehe, ek wou ook altyd gips gehad het!! Nooit enige iets gebreek tot op datum nie… ok, maar ek het ook nie heeltemal so ver soos jy gegaan om te probeer nie!
November 27, 2007 at 5:14 nm
Skoor, jy begin vir my al meer bekend klink. Waar in die Kaap, gehasie?
November 27, 2007 at 6:38 nm
Simon vd Stel se eike dorp met die Braak, die Kruithuis en oom Samie se winkel…
November 28, 2007 at 11:49 vm
Is jy ook familie van Carl Boplaas? Ek is mal oor sy (soms stoute) gediggies.
Ek wens daar was meer vrouens wat ook bereid is om dinge met hulle hande te doen en nie net terug te staan en sê hierdie is manswerk nie.
#8: Ons worry almal saam, veral oor die mentaliteit van die wie se stemme regtig tel, want die soos ons is maar net toeskouers en demokrasie net ‘n woord.
November 28, 2007 at 1:31 nm
ja, familie deur ñ verdunde bloedlyn.
Ek sou se daar is ten minste 3 faktore wat bydra tot ‘n vrou se handigheid:
*die gene
*die voorbeeld aan haar gestel van ‘n jong ouderdom
*of sy toegelaat is om te probeer, en met die regte leiding gewys is
Oor jou laaste opmerking, behou ek die reg om daarop te antwoord met my volgende pms aanval! Ek is nie vandag in die bui vir vies word nie!
November 28, 2007 at 11:36 nm
Skoor, nou hoe dan nou so? Oor die vroueliga van die ANC – dis eintlik die veiligste plek vir ENIGE vrou naby Zapha, ek bedoel Zuma – ek meen nou maar, hy MAAK vroue eenvoudig onderdanig as hulle hulleself nie onderwerp aan hom nie – in daai geval is die veiligste plek eintlik maar AGTER hom, of hoe?
Oor arm breek – jawel, ek kan blosend vertel ek wou ook altyd my linkerarm graag breek – ook die hele laerskool lank probeer. En ja, ek het gevrek vir verbande en pleisters – kon nie genoeg daarmee speel nie. En die wie wonder oor die asyn – die gerug wat my ore bereik het, was dat jy die been wat jy wil breek, moet week in asyn – dit maak die been konsuis bros – moenie gloooo nie – ek het soos asyn geruik meer as een vakansie – en niks gebreek nie…. totdat ek in die hoërskool toe nou wel my regterarm gebreek het – dit was flippen seer en ongemaklik en die beste deel daarvan was dat van die onderwysers gaaf genoeg was om self my “van die bord afskryfwerk” VIR my te doen!
November 29, 2007 at 6:00 vm
Wikkel
Hier onthou ek nou nog iets van skooldae.
Ons het Desembervakansies ons koppe vol suurlemoen sap gesmeer om die spulletjie ligter te kry, en dan ure in die son deurgebring met die suur haartjies!
Dit het gewerk, maar ‘n donkerkop sal nooit ooit surfer hair he nie. Een skakering ligter was darem beter as niks. Seker al die suurlemoen wat my toe so vroeg laat grys hare wys het!
November 30, 2007 at 4:12 vm
Ja, ek onthou ook van suurlemoen – nou wonder ek of stoutsus my van nou af haar suurlemoentjie gaan noem, Skoor? Vandat ons saam is, het haar hare ook in waarde gegroei – die brons word daagliks meer silwer….